Geskiedenis

Die Gereformeerde Kerk Clanwilliam

‘n Oorsig uitgewerk deur C.F. du Plessis by geleentheid van herdenking van 75-jarige bestaan van die Gereformeerde Kerk, Clanwilliam 03 Junie 1989. Die geskiedenis is daarna deur verskillende persone bygewerk.
 
Inleiding
As daar iets gesê moet word oor die stigting en geskiedenis van die Gereformeerde Kerk, Clanwilliam, is dit gepas om by die “Kruis Kerk” van ds. S.J. du Toit te begin, want dit is seker nie gewaagd om te sê dat as dit nie vir Ds. Du Toit was nie, daar nooit ‘n Gereformeerde Kerk op Clanwilliam sou gewees het nie.
 
Die lidmate wat beswaard was in die NG Kerk het aansluiting gevind by ds. Du Toit, emeritus NG predikant van Noorder-Paarl. Ds. Du Toit het destyds verskille met die NG Kerk gehad oor sekere beginsels en praktyke, en het toe “Gereformeerde Kerke onder het Kruis” gestig. Hy was konsulent van die kerke. So ‘n “Kruiskerk” is reeds in 1897 in Strydenburg gestig. D.m.v. ds. Du Toit se baie geskrifte en sy reise na Strydenburg het lidmate van Clanwilliam persoonlik met hom kennis gemaak. Nadat W.L. du Plessis vanaf 1901 met ds. Du Toit onderhandel het, word ‘n “Kruiskerk” gedurende 1903 op Clanwilliam gestig.
 
Die redes waarom die lidmate die NGK verlaat het, word nie in die notules vermeld nie, daarom het ons na die Strydenburgers se geskrifte gaan kyk, want dit kan seker aanvaar word dat die lidmate van Clanwilliam om dieselfde redes die NGK verlaat het. Ons noem onder andere
 
* skreeuende onkunde oor die Drie Formuliere van Eenheid
* die sing van Kinderharp en Sankey liedere
* verwaarlosing van die suiwere leer, veral uitverkiesing en die persoonlike inwoning van die Heilige Gees
* onkunde, mistasting en dwaling i.v.m. die uitverkiesing
 
Op 05 Januarie 1914 vergader deputate van die “Kruis Kerke” op Breyten. Clanwilliam word verteenwoordig deur W.L. du Plessis. Op hierdie vergadering word besluit om die “Kruis Kerke” te ontbind. Ds. Du Toit het noue verbintenis met die Gereformeerde Kerk gehad en reeds in 1910 het hy lidmate van “Kruis Kerke” geadviseer om na sy dood by die Gereformeerde Kerk aan te sluit. Teen daardie tyd was sy oudste seun Totius reeds predikant in die GK.
 
Stigting van die Gereformeerde Kerk (GK) Clanwilliam
Die Gereformeerde Kerk, Clanwilliam is gestig op 21 April 1914 met sewe-en-dertig belydende lidmate. Die bes verteenwoordigende lidmate was sestien Du Plessis’s, woonagtig in Clanwilliam en omgewing, elf Van der Merwes, woonagtig in Citrusdal en omgewing, vier Hanekoms, twee Greeff’s, twee Versters en twee Louws. Die persone wat die leiding geneem het was twee broers, PG en WL du Plessis en CF du Plessis, seun van PG du Plessis.
 
Die eerste Kerkraad het bestaan uit Ds. M. Postma (Konsulent), P.G. en W.L. du Plessis (ouderlinge) en C.F. du Plessis (diaken).
 
Bediening
Die bediening geskied deur konsulente en seker al die destydse predikante van Noord-Kaap was konsulente van Clanwilliam. Elke drie maande word nagmaal gevier, en gedurende so ‘n naweek is vier eredienste gehou.
 
Bouers van Gereformeerde Kerk, Clanwilliam
Uit die huwelik van ouderling W.L. du Plessis het geen seuns volwassenes geword nie. Uit ouderling P.G. du Plessis se twee huwelike is agt seuns gebore waarvan sewe hulle by die Gereformeerde Kerk aangesluit het. Ses van die seuns of hul kinders het die gemeenskap met die kerk opgesê of uit die gemeente vertrek. Uit die huwelik van diaken C.F. du Plessis is ses seuns gebore. Een seun vertrek uit die gemeente en vyf word boere in die distrik. Dinge het so ontwikkel dat al die Du Plessis’s wat tans aan die Gereformeerde Kerk Clanwilliam verbonde is, nasate is van C.F., oudste seun van P.G. du Plessis.
 
Oprigting van kerkgebou
Op ‘n vergadering van die kerkraad met die gemeente gehou 10 Januarie 1918 word besluit om ‘n kerkboufonds te stig en £6 word onmiddellik daarin gestort. Twee erwe word gekoop teen £15 stuk en op 21 Januarie 1922 rapporteer die boukommissie dat, indien die lidmate self bou, ‘n gebou van 30vt X 60vt ongeveer £400 sal kos.
 
Die kerkgebou word van gedresseerde klippe opgerig. Die klippe word op die terrein gebreek en gekap. Die boufonds staan nou op £226 en ‘n paar maande later rapporteer ouderling C.F. du Plessis dat reeds met die bouery begin is. In dieselfde jaar (1923) word die hoeksteen gelê deur die konsulent, ds. J. H. G. van der Walt. Nog £224 word geleen en ouderling Du Plessis sê dat nog £200 benodig word. Later in die jaar sê ouderling Du Plessis dat die gebou onder dak is en dat £731.10.5 reeds uitbetaal is. Die bouery staan stil omdat die fondse uitgeput is. Daar word besluit om nog £50 te leen om afrondingswerk te doen. By voltooiing kos die kerkgebou ongeveer £800. Die kerk skuld £450 op die gebou. Gelukkig was die jongste seun van ouderling P.G. du Plessis toe al ‘n vermoënde man en kon hy ‘n rente vrye lening aan die kerkraad maak. Die geld is in paaiemente terugbetaal, en teen 1936 is die totale bedrag vereffen. Die oprig van die sierlike kerkgebou is ‘n geloofsdaad en ‘n gebou wat die eeue sal trotseer.
 
Erflatings deur lidmate
In die bestaan van die kerk het verskillende lidmate erflatings aan die kerk gemaak. Dit het gewissel van £50 tot £100. Een erflating is interessant. Die broeder gee £50 teen 4% rente per jaar aan die kerk. Die rente moet weer belê word, en dien as bydrae vir homself en sy eggenote tot hul dood en na sy dood gaan die rente aan sy dogter. Na háár dood in gelyke dele aan haar dogters na hul mondigwording. Die broeder het seker nagedink oor die erflating, want op ‘n volgende vergadering versoek hy die kerkraad om die eerste ooreenkoms te vernietig, want sê hy;
“Dit is my innige begeerte om dit aan die kerkraad te gee vir die boufonds”.
 
Swaar beproewing
 Tussen 1926 en 1931 sterf vier kerkraadslede nl. ouderlinge C.F. du Plessis, A.J. Hanekom, A.J. van der Merwe en diaken G.P. du Plessis. Ouderlinge C.F. du Plessis en A.J. van der Merwe was teen daardie tyd die twee leidende figure in die kerk en hulle was gereelde deputate na meerdere vergaderings.
 
Na  die  dood  van  ouderling   C.F.  du Plessis  het  die  konsulent,  ds.
 T. Hamersma ‘n brief van meegevoel aan die kerkraad geskryf. Hier volg ‘n uittreksel uit die brief:
“Nie so lank gelede nie, het ons die broeder gesien op die Algemene Vergadering te Aliwal-Noord, en ander jare op ander vergaderings. Broeder Du Plessis het al onder ons ‘n ou bekende geword, en op vergaderings het hy altyd baie belang gestel in die sake wat behandel word en deel geneem aan die besprekings. Met ywer en toewyding het hy die kerk gedien”.
 
Kerklike tug en kerkbedank
Tug- en kerkbedankgevalle is altyd met die uiterste geduld en lankmoedigheid hanteer. By tugsake het lidmate altyd positief reageer, maar by gevalle waar lidmate die gemeenskap met die kerk wou opsê, kan ongelukkig nie dieselfde gesê word nie, al was die bearbeiding hoe deeglik en moeisaam. Destyds was die predikante baie nougeset oor die bywoning van kerkraadsvergaderings en afwesigheid moes skriftelik verantwoord word.
 
Herstelwerk aan kerkgebou
Van tyd tot tyd is herstelwerk aan die kerkgebou gedoen, soos vervang van stukkende ruite en raamtoue, verf van gebou waar nodig en vasslaan van plafonplanke en los sinkplate. Die ou omheining is vervang. Die stoele wat in gebruik was, is vervang met banke en ‘n ruskamer en toilette is later opgerig. Die terrein voor die Kerkgebou is in twee terrasse gebou, opgevul en met gras beplant. Die houtvensters wat erg verweer en boonop deur termiete beskadig was, is vervang. Hoewel vakmanne ‘n gedeelte van die werk gedoen het, is die meeste werk deur lidmate en hul arbeiders gedoen. Nou staan die kerkgebou gedeeltelik in sy nuwe gewaad.
 
Kaapstad beroep eerste predikant in kombinasie met Clanwilliam
Op ‘n kerkraadsvergadering 17 April 1937 word besluit dat Kaapstad en Clanwilliam in kombinasie beroep en  prop. J. W. Janse van Ryssen die beroep na die kerke aanvaar het.
 
Clanwilliam se bydrae aan traktement is £40 per jaar. Elke kwartaal is nagmaal bedien en huisbesoek gedoen deur die predikant. Vervoer van lidmate was primitief en ds. Van Ryssen moes dikwels agterop ‘n oop vragmotor kerk toe ry, maar as nederige mens het hy dit blykbaar geniet.
 
Ook dr. P.J. Coetzee en ouderling Jannie du Plessis moes te perd huisbesoek doen. Dr. Coetzee was glo ‘n kranige ruiter. Terwyl Clanwilliam met Kaapstad  in  kombinasie  was,  is  die  kerk  bedien  deur  ds.  Van  Ryssen,
 dr. Coetzee en ds. L.S. van der Walt.
 
 
Ontwrigting gedurende die Tweede Wêreldoorlog
Was die rebellie gedurende 1914 ‘n briesie vir die Gereformeerde Kerk, Clanwilliam, was die Tweede Wêreldoorlog ‘n storm. Na die uitbreek van die oorlog en Suid-Afrika ook betrokke raak, was die lidmate van Clanwilliam dadelik verdeel in pro- en anti-oorlogsgroepe. Om dinge te vererger behoort die predikant en die anti-oorlogsgroep se lidmate aan ‘n organisasie wat, soos die pro-oorlogsgroep dit gesien het, die regering met geweld wil omverwerp. 
 
Die pro-oorlogsgroep se besware is dat:
 
* dit ‘n geheime beweging is
* die beweging dit ten doel het om die bestaande owerheid omver te werp
* die beweging skeuring veroorsaak in volk en kerk
 
Die pro-oorlogsgroep onthou hulself van die nagmaal en weier om kerklike bydraes te gee. Die volgende beskrywingspunt word na die eerskomende klassis gestuur nl. die klassis spreek hom uit oor wat die kerkraad te doen staan met lidmate wat nie hul kerklike bydrae gee nie, omdat die leraar lid is van die Ossewabrandwag. Die beskrywingspunt word na die eerskomende Part. Sinode verwys. Die Part. Sinode adviseer die kerkraad soos volg:
 
* Om sulke lidmate voor te lig omtrent die kerklike weg wat in die geval van kerklike besware teen kerkdienaars volgens kerkorde gevolg moet word. Art. 79 KO. 
 
* Te vermaan dat die terughou van kerklike bydrae op grond van ontevredenheid met die ampsdraers verset teen die wettige kerklike owerheid is.
 
* By volharding in hierdie kwaad met die betrokke lidmate te handel volgens Art. 72 KO.
 
Teen hierdie tyd het die voorsitter van die kerkraad die Ossewabrandwag bedank. Ds. D.G. Venter as konsulent besoek nou die gemeente. Op ‘n vergadering van die kerkraad met die gemeente adviseer ds. Venter die lidmate om die geskille daar te laat en eendragtig voort te gaan. So is hierdie onaangenaamheid beëindig en kom daar weer rus en vrede in die gemeente.
 
Leesdienste
Kort na die stigting van die kerk het konsulente aangedring op leesdienste. Leesdienste is dan ook gehou op Clanwilliam en Citrusdal, maar a.g.v. swak bywoning is dit gestaak. Tydens die bediening van ds. J.L.J. Snyman is dit weer hervat en daarmee word volgehou tot op datum.
 
Clanwilliam tree in kombinasie met Worcester
Gedurende November 1955 hou die kerkrade van Clanwilliam en Worcester ‘n gekombineerde vergadering in die Paarl met die doel om te beroep. 
Prop. J.L.J. Snyman word beroep, ‘n beroep wat hy ook opvolg. Clanwilliam se verpligtinge is £175 per jaar aan traktement plus 1 sjieling per myl reiskoste aan die predikant. Na ‘n dienstyd van drie jaar vertrek ds. Snyman.
 
Kombinasie Worcester – Paarl – Clanwilliam
Ds. J.C. Lessing aanvaar die beroep na die kombinasie met standplaas in die Paarl. Ds. Lessing is die eerste predikant wat lidmate in Springbok en Nababeep besoek. Clanwilliam doen nou aansoek vir sustentasie om verspreidwonendes te besoek. Teen 1960 vertrek ds. Lessing. Prop. P.J.W. Linde word beroep en aanvaar die beroep.
 
Bediening van verspreidwonendes
Tydens ds. Linde se bediening is ooreenkoms aangegaan met Gereformeerde Kerk Karasburg dat Clanwilliam lidmate op Alexanderbaai, Port Nolloth, Kleinzee, Nababeep en Springbok onder sy sorg neem.
Ds. Linde was die predikant wat die meeste kilometers in diens van verspreidwonendes afgelê het, maar met sy sterk gestel en rustige geaardheid was die opofferings vir hom kleingeld. Met die besoeke is volgehou tot na die vertrek van ds. J.L. Venter. Lidmate het toe so verminder dat Karasburg weer bediening oorgeneem het. In 1985 tydens die bediening van ds. Enslin is die besoeke weer hervat en huidig is die lidmate weer onder die sorg van Karasburg.
 
Worcester – Clanwilliam kombinasie
Na die vertrek van ds. Linde word Worcester en Clanwilliam agtereenvolgens bedien deur di. N.P. Heystek, J.L. Venter en H.J. Krüger.
 
Vredenburg – Saldanha – Clanwilliam kombinasie
Gedurende 1985 gaan Vredenburg-Saldanha en Clanwlliam in kombinasie en prop. G.B. Enslin aanvaar die beroep. Gedurende 1988 aanvaar ds. Enslin beroep na Koedoesrand en die kombinasie met Vredenburg-Saldanha word ontbind.
 
Worcester-Clanwilliam kombinasie
 ‘n Bedieningsooreenkoms word met Worcester aangegaan, met ds. H.J. Krüger as predikant. Ons is terug by een erediens in die maand en nagmaal vier keer ‘n jaar. Omdat hierdie bediening baie min was, het al hoe meer lidmate wat ver van die kerk gewoon het, gemeenskap met die kerk opgesê, veral lidmate in die Vredendal-omgewing. Op ‘n kerkraadsvergadering van 5 Junie 1993 besluit die kerkraad onder voorsitterskap van ds. J.L. Aucamp (predikant van Worcester) om ‘n berig in die Kerkblad te plaas. In hierdie berig moet die agtergrond en behoeftes van die gemeente geskets word en ‘n versoek gerig word dat ‘n emeritus predikant vir ‘n tydperk van agtien maande hier moet werk.
 
Emeritus-bediening
Ds. J.H. Coetzee(1993-1996) is die eerste emeritus predikant wat aanbied om hier te werk. Die kerkraad huur ‘n woonstel in Vredendal, omdat die behoefte daar die grootste was. Ds. Coetzee doen sulke goeie werk dat die lidmatetal groei van 27 belydende lidmate in 1993 tot 41 in 1995. Eredienste word gehou – een Sondag op Clanwilliam en die daaropvolgende Sondag op Vredendal aan huis van een van die lidmate. Na ds. Coetzee volg prof. P.J. Coetzee (1996-1998), ds. A.S.L. Minnaar (1998-2000), ds. G.B.C. Bester (2000-2001), ds. F.J. du Toit Lessing (2002-2003) , dr. J.M. Gerber (2004Maart-Junie) en ds.KAJ van Rensburg Julie2004-Nov.2004)
 
In die jaar 2001 het die gemeente ‘n pastorie in Clanwilliam gekoop en ds. F.J. du Toit Lessing was die eerste predikant wat daar woonagtig was.
Nadat hy vertrek het, het  ds. D.C. Coetsee  - ‘n emeritus predikant woonagtig in St. Helenabaai die Gereformeerde Kerk Clanwilliam bedien. Op daardie stadium het eredienste elke veertien dae op Clanwilliam en Vredendal plaas gevind.
 
Vanaf Oktober 2011 word die bediening behartig deur dr. M.J. du Plessis wat op Bellville geëmeriteer het. In sy bedieningstyd vind daar twee uit elke drie Sondae eredienste plaas op sowel Clanwilliam as Vredendal. Sondagoggend 8:45 is die diens in Clanwilliam. Daarna word die diens om 11 uur in Vredendal gehou. Na die diens in Vredendal word daar belydeniskatkisasie gehou (indien daar katkisante is). Daarna word daar Bybeldtudie gehou vir daardie deel van die gemeente
 
Die predikant moet dan taamlik haastig maak om terug te kom in Clanwilliam, sodat daar om 7 uur die aand ‘n erediens in Clanwilliam gehou kan word. Belydeniskatkisasie vind op Woensdagmiddae by die pastorie plaas en Bybelstudie vir die gemeente Donderdagaande om 7 uur in die kerkgebou.
 
Lidmatetal
Die getal belydende lidmate van die Gereformeerde Kerk Clanwilliam, het redelik konstant gebly. 1959 was die vrugbaarste jaar, toe die gemeente kon spog met sewe-en-vyftig belydende- en sewe-en-dertig dooplidmate. 
Vir die jaar 2012 is daar een-en-vyftig belydende lidmate en nege dooplidmate in die gemeente
 
Sustersaksie
Tydens die bediening van ds. Van Ryssen (1937 – 1945) is ‘n sustersaksie op Clanwilliam gestig. Op 12 Oktober 1963 ontvang die kerkraad ‘n brief van die susters dat hulle wens om te ontbind. Die bedrag van R167,00 word aan die kerkraad geskenk. Hierdie geld word gebruik om gordyne te hang en matte voor die preekstoel en in paadjie te gooi. Op 2 Maart 1980 word weer ‘n sustersaksie gestig. Verskeie projekte word aangepak en dienste gelewer o.a. nuwe bekleedsel voor die kansel en kateder. 
Geld is geskenk vir aankoop van grassnyer, nuwe blindings en gordyne word aangebring en donasie aan die kerkraad vir nuwe vensters. Die huidige voorsitter is suster Marie Badenhorst en sekretaresse suster Dina Bresler.
 
Huidige kerkraad
Ds. D.C. Coetsee (voorsitter)
Ouderlinge: C.F. du Plessis; G.N. du Plessis; J. Basson; P.J. Vorster en H. Briel
Diakens: CF du Plessis (Francois); Wouter Vierbergen en P. du Plessis
 
Voorsingers
Die gemeente moes altyd gebruik maak van voorsingers. In volgorde vanaf die stigting van die kerk:
* C.F. du Plessis
* G.N. du Plessis
* S.W. du Plessis (Verteenwoordig drie geslagte)
* J.H.G. du Plessis
Latere jare is ‘n orrel aangeskaf met suster Lize Basson as die huidige orrelis.
 
Kosters
* P.G. du Plessis (Pieta) (G. Sn) 
* G.P. du Plessis (G.P. Sn)
* P.J.S. du Plessis
* J.D Basson
* J.A Basson (seun van bg.)
* Wouter Vierbergen
 
Die Kerk lewer een predikant
Die kerk lewer een predikant nl. ds. A.J. du Plessis. Nadat ds. Alwyn preekverlof gekry het, het hy by elke moontlike geleentheid in dié kerk gepreek, ‘n gebaar waarvoor die lidmate altyd dankbaar sal bly.
 
CLANWILLIAM
Parkstr 28, Bus 175, 8135
VREDENDAL
h/v Vrede & Goeiehoopstraat
PREDIKANT
Dr Marius Aucamp
027 482 1665
 
 

Kontak asb J Vierbergen of Dr. Marius Aucamp om inligting op hierdie webtuiste op te dateer of by te werk.

Sag 3:4 Daarop het Hy aangehef en gesê aan die wat voor Hom staan: Neem die vuil klere van hom weg. Toe sê Hy vir hom: Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere.

 
  Kopiereg voorbehou 2015 | Gereformeerde Kerk Clanwilliam